Landsdienskamp te Karnmelkspruit

Die Ons Gee Om Landsdieners het die afgelope naweek hul jaarlikse klubkamp gehad. 53 gr.9-12 leerders het die kamp meegemaak.

Karnmelkspruit kampterrein is ‘n gunsteling kampplek vir baie leerders. Die kampers kan heerlik baljaar in die stroom en van die rots afspring of lekker speel op die groot grasperke.

Die program het afgeskop met ‘n stap na die “Aasvoël Restaurant”. Die leerders kon rustig sit en die asemrowende kranse aanskou en die Aasvoëls besigtig wat vlak voor hulle verby gesweef het.

Die aandprogram van braai en kampvuur konsert hou is ‘n bietjie ingeperk deur die reën. Die nattigheid het nie die leerders te veel gepla nie – daar is heerlik gebraai en selfs konsert gehou.

Saterdagoggend was die leerders vroeg uit die “nat” vere. Die reën het bedaar en die kampers kon ‘n lekker uitdagende stappie na die ou treinbrug neem. Daarna is die bewaringstaak aangepak. Hulle het kankerroos, oliebome, brandnekels en duwweltjies op die kampterrein verwyder. Na middagete kon die handwerkprojek gedoen word. Valentynsdag was die tema en elke leerder kon ‘n oulike spyker en wol hartjie vir ‘n geliefde maak.

Baie dankie aan Juffrou Zizi Rens, Mnr J.F Bosch en Juffrou C. Lombard wat die kamp meegemaak het. Baie dankie aan Juffrou Lorinda van Jaarsveld wat gesorg het dat almal se magies Saterdag vol kom na die lang stap. Baie dankie aan Ian en Elize Cloete wat altyd soveel moeite doen om die kampterrein en geriewe gereed te kry en daar te stel vir die Landsdiens. Julle goedgesindheid word opreg waardeer!