Graad 8 Landsdienskamp

Die graad 8 Landsdieners het die naweek van 26-28 Oktober gaan kamp op Steepside, naby Rhodes. Hulle was baie gelukkig met die weer, want die vorige naweek was dit minus 8 grade daar.


Die Vrydag na die kamp opggeslaan is, het hulle die area verken op ‘n kort staptog en oor die hangbruggie geloop. Na heerlike worsbroodjies vir aandete is daar weer ‘n ent gestap sodat die sterre bestudeer kon word en die pragtige maan opkoms ook mooi gesien kon word. Die aand is daar gesellig saam verkeer en die kampers moes gewoond raak dat daar nie elektrisiteit is nie.
Saterdagogend was almal vroeg uit die vere en na godsdiens en ‘n integriteit-aktiwiteit het hulle na die San-tekeninge toe gestap. Met die terugkeer was almal warm gestap en kon daar heerlik in die rivier baljaar en afgekoel word. Na ‘n piekniekmiddagete het hulle handwerk gedoen en die res van die middag die natuur geniet, geswem en speletjies gespeel. Die kampers moes self hout bymekaarmaak en hulle potjiekos vir die aand maak. Na ete kon hulle lekker “marshmallows” braai.

Sondagoggend moes die kamp afgeslaan word en die terrein skoongemaak word, voor die lang pad huis toe aangedurf is. Die kampers het hul eerste Hoërskoolkamp terdee geniet!
Baie dankie aan Juffrou Zizi Rens, Mnr Bennie Rens en Juffrou Meyra Venter wat die kamp gereel en meegemaak het.