Geelspan bekroon as die slimstes in Alieland

Woensdag 16 Augustus was ‘n naelbyt aand! Die kleurspanne het “all dressed up” opgedaag vir die jaarlikse Interkleure Vasvra! Voorbereidings is gedoen en almal het gedink dat hulle Juf Booysen, die vraagsteller, se vrae kon raai. Selfs mnr. Hugo Loubser en sy onniespan het gesorg dat hulle iets omtrent elke moontlike onderwerp weet!

Die vrae is gestel en so gebeur dit (soos elke jaar) dat die onnies stof in die leerders se oë skop en hulle wen die aand met ‘n allemintige 20 punte. Vir die eerste keer in baie jare het dit egter gebeur dat al drie die leerder spanne gelyke punte behaal het. Die eerste span wat die korrekte antwoord in Juffrou Booysen se hande kon besorg sou die wenners wees. Refentse het die trofee hierdie jaar aan die Geelspan besorg, met die Rooi- en Blouspan in die gesamentlike tweede plek. Die Geelspan het natuurlik hulle oorwinning behoorlik gevier tydens die sokkie wat na die afloop van die vasvra gehou is!

Baie dankie aan die kultuurbestuur onder leiding van Nerine Cloete wat die aand moontlik gemaak het, asook elke leerder wat die aand kom ondersteun het. Alieland kan nie wag om te sien wie as volgende jaar se slimste span gekroon gaan word nie!